Baie resensies word gegee, maar ek wil vandag vir julle vertel van my reis met woorde. Wat deur my gaan as ek ‘n boek lees, van die onthou wat weer opbeur en hoe ek dit ervaar. Elkeen ervaar dit dalk anders as ek. Dis geen geheim dat ek met my hart lees nie, ek is eintlik trots daarop om emosies in elke boek te toon. Baie trane het al gevloei, baie lekker lag het al gevolg en ook het ek al skaam gekry. Ek glo daar is ‘n rede hoekom ons oë gekry het en verstand om te verstaan wat ons lees.

Vandag wil ek begin met twee uiteenlopende boeke waardeur ek gelees het.

Onverklaarbaar deur Louw Grobler:

Die manuskrip Spookstories het in my e-pos beland en met versigtigheid het ek begin lees. Ek glo mos nie aan spoke nie? Soos die lees begin, begin die onthou. Die groot verlang of nostalgie na my kinderdae op ons geliefde vakansieplaas Geelhoutbos, (die Marakele Wildreservaat vandag) , waar ek as kind baie sorgelose ure spandeer het. Soos baie jare terug, ek praat van omtrent vyftig jaar terug, was daar nie krag of geriewe op vêrafgeleë plase nie. Ek onthou die koolstoof, sinkbad en long drop en die smoelneukers. En die belangrikste, die familie-byeenkomste saans, daar langs die ou plaasopstal. Met ‘n groot kombers het al die kinders en grootmense hul tuisgemaak en is daar spookstories vertel. My oom Paul, het as hy sy tande uithaal, sy gesig so getrek en ‘n flitslig onder sy ken gedruk en ons het gewag vir die beste storieverteller om sy spookstories los te laat. Natuurlik was ons baie bang gewees, veral vir spoke wat om ons dans maar wie het omgegee, dit was vermaak wat lang, warm bosveldnagte omskep het in ‘n sprokiesnag. Tog besef ons nou dat spookstories onverklaarbaar is, maar waar kom ons dan daaraan? Iets moes dit seker laat ontstaan het in die ou dae? Ek kan my nie indink dat mense dit alles net uit hul duim kon suig nie? Dit is hoekom Onverklaarbaar vir my so ‘n uitstekende spookstorie-boek is. Miskien bestaan daar tog ‘n geesteswêreld waarvan ons niks weet nie tensy jy so gebore is om met spoke te kan kommunikeer.

Die les wat ek wel geleer het hier, is dat ‘n mens moet herinneringe opbou, die mooi en minder mooi en eendag, as jy wel lees en iets onthou, die herinnering kan oproep en weer die meelewing kan ervaar.

Adderjan Verwey deur Sonja Brown

Hierdie Potpourri-genot is presies wat die genot vertel. Jy lag jou slap vir hierdie pa en dogter en ook vir die liefde wat jou regtig baie snaakse draaie laat loop. Dit is skreeusnaaks en die lekker-lag die moeite werd. Kom ervaar die ouerwees of pa-wees in die boek en dalk herken jy tog so ‘n stukkie eie-ek hierin. Wel, ek het myself herken. My oudste dogter se eerste afspraak sal ek nooit vergeet nie. Ek het omtrent gekloek om haar tot sy my mooi vertel het: “kyk hier ma, dis my date en eintlik is ek nog te jonk vir regtig date, ek gaan net jol,” en meteens het ek my lus vir haar date verloor. Dit is wat lees die moeite werd maak.

Die les wat my reis met woorde my hierin geleer het, ouers, moenie te veel inmeng in jou kinders se liefdes-sake nie, dit het ‘n manier om jou terug te slaan op die onmoontlikste (poets)manier.

Ek groet julle met die stukkie waarheid:

Lees is die lewe se manier om jou te laat ontsnap na ‘n wêreld van jou eie. Moenie jouself dit misgun nie.

My uitdaging aan julle die week: koop een van die boeke of e-boek, teen ‘n groot afslagprys en ontsnap na jou eie wêreld van onthou, lag, huil, woede of fantasie en kom vertel ons van jou reis deur een van hierdie twee boeke.

Groete tot volgende week

Carpe diem

Heleen

 

Comments  

0 #2 Administrator 2019-06-14 14:49
En Onverklaarbaar se link is https://www.malherbe-uitgewers.co.za/category/afrikaans-books/product/onverklaarbaar-louw-grobler
Quote
0 #1 Administrator 2019-06-14 14:48
Hier is Adderjan se link https://www.malherbe-uitgewers.co.za/category/afrikaans-books/product/adderjan-sonja-brown
Quote

Add comment


Security code
Refresh