Die dood is een afspraak wat niemand van ons kan mis nie. Dit het my laat dink... Wat los ons vir die nageslag? Meeste van ons het testamente en jy los geld, motors en ander wêreldsgoed vir jou naasbestaandes.
Wat hou jy oor van die afgestorwenis? Wat onthou jy? As ek aan my pa dink onthou ek sy woorde " jy is nie beter as n ander nie. Ons is almal gelyk." My ma het altyd gesê " jy moet jou man staan en nie opgee nie "
Dit is ons nalatenskap "woorde." Ons gedigte, ons diepste gevoel, ons stories. Ek koop graag digbundels van die onbekende skrywer. Baie dae sal ek troos soek of aansporing by n ander se woord.

Ons moet mekaar ondersteun en mekaar se woorde inneem. Op die einde is dit al wat ons het.

Skuins teen sononder

het arendsvlerke my woorde

op die windstrome geneem

soos stukkies spieëls
wat eggo's gooi

 

en met die roep van die nag

het geluide my deel geword

en toe wonder ek:

is dit hoe God met my praat

die stil beleef

tussen roesemoes van klanke

 

maar saans
in my alleenwees

is die krakies gevul

met vrede

 

skuins teen sononder ja...

word woorde my geleen

Soms moet ons werk en speel. My speeltyd is snags wanneer ek en woorde wegkruipertjie speel. Soms is woorde en net daar en soms moet ek gaan soek daarna maar dis waar die probleem inkom. Waar soek mens woorde wat jou verlaat? Op my ouderdom behoort ons nie meer te speel of te droom nie en moes ek al die lewe in al sy fasette deurgrond het. Ek moet speel met woorde, myne en ander se woorde. Dis 'n reis wat ek onderneem wat my vervul. Sonder almal woorde is ek niks. Ek is 'n softy as dit kom by lees want ek lees met my hart en trane, lag, teleurstelling en soms woede is so deel van my alledaagse reis. Die doel van my blog is om mense meer bewus te maak van boeke, lees en emosies. Hier by die kus is mense al afgestomp en ken hulle nie meer die doel van leef tussen woorde nie.

Vanaand is jy deel van my sprokie
waar ons sterretjies jaag in kammaland
en maanligstraaltjies wegkruip
agter die tower van die nag

ons speel in die hemelpoort
klim deur die hemelhek
soek na die engeltjies
wat singend wag

deur strate van die lewensgroen
lelies helderwit
soek ons na feetjies
om ons lewens te verlig

trap ons die goggatjies
wat ons kniehalter van tyd tot tyd
begrawe dit in die wattewolkies
vir eendag se spyt

dit is my...
en jou sprokie
om weg te dwaal in
'n dagverdwaaldroom
om snags die sprokie te kan uitleef

waar die lewe slaap
en fantasie ons deel word
na elke dag
elke liewe dag
se stryd

Baie resensies word gegee, maar ek wil vandag vir julle vertel van my reis met woorde. Wat deur my gaan as ek ‘n boek lees, van die onthou wat weer opbeur en hoe ek dit ervaar. Elkeen ervaar dit dalk anders as ek. Dis geen geheim dat ek met my hart lees nie, ek is eintlik trots daarop om emosies in elke boek te toon. Baie trane het al gevloei, baie lekker lag het al gevolg en ook het ek al skaam gekry. Ek glo daar is ‘n rede hoekom ons oë gekry het en verstand om te verstaan wat ons lees.

Vandag wil ek begin met twee uiteenlopende boeke waardeur ek gelees het.

Onverklaarbaar deur Louw Grobler:

Die manuskrip Spookstories het in my e-pos beland en met versigtigheid het ek begin lees. Ek glo mos nie aan spoke nie? Soos die lees begin, begin die onthou. Die groot verlang of nostalgie na my kinderdae op ons geliefde vakansieplaas Geelhoutbos, (die Marakele Wildreservaat vandag) , waar ek as kind baie sorgelose ure spandeer het. Soos baie jare terug, ek praat van omtrent vyftig jaar terug, was daar nie krag of geriewe op vêrafgeleë plase nie. Ek onthou die koolstoof, sinkbad en long drop en die smoelneukers. En die belangrikste, die familie-byeenkomste saans, daar langs die ou plaasopstal. Met ‘n groot kombers het al die kinders en grootmense hul tuisgemaak en is daar spookstories vertel. My oom Paul, het as hy sy tande uithaal, sy gesig so getrek en ‘n flitslig onder sy ken gedruk en ons het gewag vir die beste storieverteller om sy spookstories los te laat. Natuurlik was ons baie bang gewees, veral vir spoke wat om ons dans maar wie het omgegee, dit was vermaak wat lang, warm bosveldnagte omskep het in ‘n sprokiesnag. Tog besef ons nou dat spookstories onverklaarbaar is, maar waar kom ons dan daaraan? Iets moes dit seker laat ontstaan het in die ou dae? Ek kan my nie indink dat mense dit alles net uit hul duim kon suig nie? Dit is hoekom Onverklaarbaar vir my so ‘n uitstekende spookstorie-boek is. Miskien bestaan daar tog ‘n geesteswêreld waarvan ons niks weet nie tensy jy so gebore is om met spoke te kan kommunikeer.

Die les wat ek wel geleer het hier, is dat ‘n mens moet herinneringe opbou, die mooi en minder mooi en eendag, as jy wel lees en iets onthou, die herinnering kan oproep en weer die meelewing kan ervaar.

Adderjan Verwey deur Sonja Brown

Hierdie Potpourri-genot is presies wat die genot vertel. Jy lag jou slap vir hierdie pa en dogter en ook vir die liefde wat jou regtig baie snaakse draaie laat loop. Dit is skreeusnaaks en die lekker-lag die moeite werd. Kom ervaar die ouerwees of pa-wees in die boek en dalk herken jy tog so ‘n stukkie eie-ek hierin. Wel, ek het myself herken. My oudste dogter se eerste afspraak sal ek nooit vergeet nie. Ek het omtrent gekloek om haar tot sy my mooi vertel het: “kyk hier ma, dis my date en eintlik is ek nog te jonk vir regtig date, ek gaan net jol,” en meteens het ek my lus vir haar date verloor. Dit is wat lees die moeite werd maak.

Die les wat my reis met woorde my hierin geleer het, ouers, moenie te veel inmeng in jou kinders se liefdes-sake nie, dit het ‘n manier om jou terug te slaan op die onmoontlikste (poets)manier.

Ek groet julle met die stukkie waarheid:

Lees is die lewe se manier om jou te laat ontsnap na ‘n wêreld van jou eie. Moenie jouself dit misgun nie.

My uitdaging aan julle die week: koop een van die boeke of e-boek, teen ‘n groot afslagprys en ontsnap na jou eie wêreld van onthou, lag, huil, woede of fantasie en kom vertel ons van jou reis deur een van hierdie twee boeke.

Groete tot volgende week

Carpe diem

Heleen

 

As 'n mens laatnag 'n e-pos ontvang met diè woorde, is my dankbaarheid groot. Dis my lewe en waarin ek my lewe uitleef en iewers weet ek, ek doen iets reg. Ek is nie 'n prater nie maar die e-pos laat my hart warm klop. Ek wens almal kan die bundel lees. Ek sal môre as my kantoor oop is, die voorblad in die groep plaas.